Sonntag, 30. September 2007

Ons geniet ons nuwe wêreld

Dit is herfs hier by ons en die son is maar dikwels agter die wolke of daar hang ´n mis oor alles. Gelukkig kom die mooi dae ook altyd weer en dan kan ons dit geniet met rondloop en fietsry of sommer net die omgewing leer ken.
Ons geniet dit ook dat die Nederlandse grens so naby is want daar is die winkels weer anders en ook die supermarkte het ander produkte waarvan ons hou soos vla, Hollandse kaas. en party soorte koekies.
Hier is ´n paar fotos wat geneem is op een van die mooi herfsdae.


Tonnel probleme

Al die baie werk, wat ek natuurlik nie meer gewoond was nie, het by my weer ´n ou probleem na vore gebring. ´n Senuwee wat in my pols vasgeknyp word en wat veral snags baie pynlik kan wees.
Ek het die sogenaamde Carpal Tunnel sindroom en die gevolg was ´n operasie aan my regterhand en nou staan my werk eers stil. Ek het gehoop om baie gou te herstel maar dit lyk of dit in my geval tog langer gaan duur en wat veral pla is dat ´n deel van my hand voel of dit slaap en baie dik is. Dit kan ´n paar weke duur voor dit hopelik weer beter is en in die tussentyd is my regterhand maar baie dom.

Dienstag, 25. September 2007

Kinders kom kuier

Vir Herman en Marda is dit net ´n uur se vlieg hier na ons toe en dan nog die pad lughawe toe en alles wat nog ´n paar ure is. Vir Kobus, Monica en die kinders vat dit net meer as twee ure om tot hier te ry. Kuier met kinders gaan darem makliker wees as in die verlede en ons sal mekaar hopelik meer gereeld kan sien. André en Angelika moet nog kom kuier en vir hulle is dit ´n nag in die trein.

Terwyl Marda en Herman nog hier was het Kobus en Monica ook kom kuier met die kinders en ons het ´n paar lekker dae saam gehad al was daar ook baie werk om te doen waarmee hulle gehelp het.

Tussendeur was daar gelukkig ook tydjies om te ontspan en die mooi weer het saamgespeel.






Oupa het al te graag die kinders besig gehou terwyl Etrese en Monica die groot werk van die kombuis aangepak het. Die kinders was vir oupa maar ´n handvol maar ook baie lekker want dit herinner bietjie aan die jong dae toe ons eie kinders nog klein was.

Dienstag, 18. September 2007

Ons Omgewing

Bad Bentheim se middelpunt is die kasteel en die tuine, Herman en Marda het kom kuier en ons het natuurlik gaan kyk hoe alles lyk en ook die groot jaarlikse vlooimark gaan opsoek.
Die omgewing hier is baie landelik en behalwe vir die sandsteen "berg" hier in Bad Bentheim is dit redelik plat en dus ook ideaal vir fietsry. Hier is wonderlike fietsry paaie deur woude en velde en langs die riviere. Baie mense kom hou vankansie in die omgewing om die natuur te geniet. Naby ons is ook Gildehaus met ´n ou meule en ´n ou bakker met regte outydse brood uit ´n oond wat met ´n houtvuur verhit word. Die uitsig daar is ook pragtig tot vêr in Holland in.
Die plekkie Schüttorf is ook naby en het ´n mooi stadhuis en lê aan die Vechte rivier.

Montag, 17. September 2007

Vestig in Bad Bentheim

Na my aftrede begin ´n nuwe lewensfase hier in Noord Duitsland. Eintlik behoort ek nou baie tyd te hê maar ons nuwe huis hou ons besig.

Die trek vanaf München het goed afgeloop en amper al die meubels het nou al ´n plekkie gevind.

Die huis is groot maar tog weer baie anders en dit vat tyd om alles weer in te rig.

Hier so iets van ons huis en ons dorp.

Bad Bentheim het ongeveer 15000 inwoners en die middelpunt is die kasteel.
Hier is ´n paar fotos van ons huis, tipies van hierdie omgewing met ´n spitsdak en klinkersteen mure.
Aansig Noordoos:
Aansig Suidwes:
Ingang na die huis
Ingangsportaal:
Woonkamer:

Uitsig deur die badkamer venster: