Mittwoch, 31. Dezember 2008

Desember, en dit is koud.

Desember met al sy Kersfeesdrukte is weer verby. Die kinders het kom kuier en dit was sommer baie koud met baie nagte so om en by -10°C. Daar was ook ´n bietjie sneeu en verder baie ryp en ys. Gelukkig is die olietenk(4000liter) vol, die verwarming werk goed en ons maak byne elke aand ook nog ´n kaggelvuur vir die lekkerte en ´n paar kerse help ook om die regte atmosfeer te kry.
Die kortste dae is nou ook al weer verby en hier is ´n foto van volmaan oor die kasteel geneem om ongeveer nege uur in die oggend, dan begin dit darem al goed lig word.
Toe ons al die presente onder die boom sien en al die lekker eetgoed kon geniet, het ons weer besef dat ons baie het om oor dankbaar te wees. Michelle word ´n regte dogtertjie en is soos die twee seuns, baie soet.
Ons het na Kersfees ook nog die Meyer Skeepswerf naby Papenburg besoek waar onder andere die wêreld se luukse skepe gebou word soos in hierdie model.

Alles daar is ontsaglik groot. Daar is twee konstuksiedokke wat volledig onder dak is. Hierdie een is bykans 400m lank, meer as 100m breed en 60m hoog alles onder een dak. Die ander dok is sopas verleng na meer as 500m.

Donnerstag, 27. November 2008

Nog ´n paar November fotos

November is die oorgang van Herfs na Winter soos op die volgende twee fotos te sien is.

Verder was ons weer ´n keer by die kleinkinders om te sien dat hulle nie te vinnig onder ons uitgroei nie.
Michelle hou van fotos neem
en van haar Ouma
en die seuns is opgewonde oor Sinterklaas en Zwarte Piet en ons was saam met hulle na ´n Sinterklaas fees.

Sonntag, 2. November 2008

Op Ryn en Mosel

Ons is hier deel van ´n kegelklub en behalwe dat ons een keer per maand speel en saam kuier op verjaarsdae of ander geleeenthede, gaan ons ook een keer per jaar saam op ´n kort vakansie. Ons is vyf pare, almal van ongeveer ons ouderdom en ons het baie plesier saam. Ons was nou saam vir ´n bootreis op die Ryn en die Mosel in ´n pragtige deel van Duitsland. Die hange langs die riviere is ideaal vir wingerde.
Verder is daar baie mooi dorpies.
Die boot is ´n drywende hotel met byna 100 kamers en terwyl die mooi wêreld verbygly geniet ons al die lekker dinge op die boot.
Ons het ook op verskillende plekke aan land gegaan en van die jong wyne gedrink wat nou in die herfs oorals verkoop word.
Die weer was maar so-so en ons het soms maar ons jasse aangetrek teen die koue.
Oorals pragtige herfskleure


Dit was ´n tyd van heerlik eet, drink, gesels, speel, lag, sing en dans en sommer net baie sports van vroeg tot laat.

Mittwoch, 15. Oktober 2008

Ons week in Engeland

Ons het besluit om vir Herman en Marda te gaan kuier maar hierdie keer het ons dit gerieflik met ons eie kar gedoen en dit werk sommer baie goed. Vier tot vyf ure se ry tot by die ferry in Frankryk dan 2 ure ontspan op die boot en dan nog ´n stukkie van minder as 2 ure tot by hulle huis.
Ons het die naweek lekker dinge saam met hulle gedoen en die res van die week terwyl hulle werk ons eie ding gedoen en rondgery. Die linksryery is geen probleem nie en met die TomTom se hulp het ons alles maklik gekry.

Hier die bekende "White Cliffs of Dover" by ons aankoms.
Saam met Herman en Marda op ´n wyn landgoed in hulle omgewing. Amper gevoel ons is in Stellenbosch!
Toer met ´n "treintjie" oor die landgoed van Denbies.
Met baie mooi uitsig oor die valleie en wingerde.

Hulle woon in ´n baie mooi omgewing met lekker staproetes langs riviere en kanale.

Natuurlik het ons ook na Stonehenge gaan kyk en saam gewonder wat dit nou eintlik beteken.
Ons het ´n paar mooi plekke besoek soos Bath, Salisbury en Winchester met sy bekende Cathedral. Onthou jy die liedjie?
Salisbury
Winchester Cathedral

Montag, 29. September 2008

Beethofen en bierfees

Hier is byna altyd iets aan die gang en die afgelope naweek was geen uitsondering nie.
Vrydagaand was ons by ´n uitvoering van Beethofen se 9de met ´n groot simfonie-orkes en ´n koor van bykans 100 mense, genoeg om ´n mens hoendervleis te gee.
Saterdagaand was ons by die plaaslike Oktoberfees en hoe kan dit nou anders as lekker wees.
Heerlike musiek, sing, dans, eet en drink tot laat in die nag.
Prosit! aan almal wat die blog lees.

Donnerstag, 25. September 2008

Kleinkinders

Ons het sommer deur die week ´n paar dae by Kobus en Monica gaan kuier om ´n bietjie uit te help met kinders oppas en sommer net om hulle weer te sien want hulle groei tog so vinnig.
En kyk net hoe oulik is hulle.





Montag, 22. September 2008

Familie Boot kuier

Die afgelope naweek het ons die hele Boot familie by ons gehad.
Altesaam was ons 12 mense en ons het die gewone lekker dinge gedoen.


Gekuier en gesels, rondgeloop, lekker geeet en ook braaivleis gehou by heerlike sonskyn weer.


Met Jan en Lien wat al ´n dag eerder gekom het was ons ook by die wynfees.





Sonntag, 14. September 2008

Met fiets en boot deur ons omgewing

Die afgelope week het ek met my fiets die omgewing ´n bietjie verder gaan verken en tot ver in Nederland ingery. Die weer was heerlik en dan lok die pragtige fietspaaie steeds verder weg van die huis af. Ongeveer 70km later was ek taamlik moeg weer terug by die huis en wonder hoekom ´n fiets se saal so hard moet wees.




Gister het ons hele woonbuurt ook ´n uitstappie gehad. ´n Bus en boot is gehuur en ons het die middag op die boot deurgebring met musiek gesels en sommer lekker saamkuier. By die bestemming het ons saam geëet en is die aand weer met die bus terug huistoe.


´n Baie lekker gebruik wat hulle hier het, want dit bring mense bymekaar en vir ons help dit om die mense en die omgewing beter te leer ken en dus meer tuis te voel.
Hier is ´n Google Earth beeld van ´n klein stukkie van die Emsrivier soos dit deur die landskap kronkel en ´n paar fotos van die dag.





Montag, 1. September 2008

Jongensfontein en stormsee

Ons kon die vakansie afsluit met ´n paar heerlike dae in Jongensfontein, vir die wat nie weet nie, net verby Stilbaai. Ons het lekker gekuier met Otto en Petro by hulle strandhuis. Ons het op pad ook by Thinus en Annemarie in Onrusrivier gestop vir ontbyt.
Hulle het ons met ´n lekker kaggelvuur verwelkom.


Die pad deur die tuinroete is ook altyd weer mooi.

Stil was dit hierdie keer nie in Stilbaai nie en weens stormwind op see was die golwe so groot soos ek nog nooit gesien het nie. Volgens die weerkantoor was die golwe meer as 7 meter hoog. Daar was ook skade aan huise en strande in die hele kaapse gebied.



Maar al was dit koel het ons heerlik ontspan en lekker geeet en gekuier.