Mittwoch, 31. Oktober 2007

Kleinkinders oppas

Dit was die herfsvakansie in Nederland en ook Marco se skool was toe.

Ons is die naweek na Kobus en Monica en het die twee seuns saamgebring hier na ons toe.

Hulle was baie tevrede om saam met ons te gaan, en ons almal het die week baie geniet met uitstappies en lekker herfsweer.


Kom Thomas, moenie agter raak nie!


Die seuntjies is baie lief en was tuis vanaf die eerste dag.


Deur die dag was dit uitstappies, speel, fietsry boeklees ens.


Teen die aand is dit badtyd, storietyd en dan droomland toe.




Die kinders het ons baie besig gehou en saans was ons amper net so moeg soos hulle maar dit was baie lekker en ons sal dit sekerlik weer wil doen.

Sonntag, 14. Oktober 2007

´n Dag in Apeldoorn

Halfpad tussen Nootdorp in Holland en Bad Bentheim in Duitsland lê Apeldoorn en dit was Monica se plan dat ons elkeen ´n uur ry en dan kry ons mekaar daar vir ´n uitstappie met die kindertjies.

Dit was ´n heerlike herfsdag en veral die kinders het dit geniet om aapies van naby te sien.

Lekker om so naby aan mekaar te woon dat ons mekaar vir ´n daggie kan sien.

Dankie Monica vir ´n oulike gedagte en ´n lekker paar uurtjies saam.

Montag, 8. Oktober 2007

Herfs is paddastoel tyd

Die dae raak korter, die nagte kouer en in die woude is dit nou paddastoel tyd. Baie mense wat die verskillende soorte ken gaan soek paddastoele om te eet maar elke jaar weer is daar mense wat hulle misgis en dan by die dood omdraai as hulle gelukkig is.

Ons vat nie kanse nie en as ons lus is vir paddastoele koop ons dit in die groentewinkel. Ons hou wel daarvan om hulle te soek en ´n paar spesiale paddastoele af te neem. Hier is ´n paar voorbeelde van hoe dit lyk, veral die rooies met die kabouters is glo baie giftig.

Jan en Lien kuier

Waar ons nou bly kan Jan en Lien nog rustig ontbyt eet by die huis in Den Haag en middagete is hulle al by ons. Hulle het die kans gebruik en lekker by ons gekuier vir ´n paar dae. Ons het heerlik gesels van vroeg tot laat en dit was lekker om hulle die omgewing te wys. Ons het met hulle na plekke gery waar ons self nog nie was nie en so ontdek ons die omgewing stuk vir stuk.

Hulle het dit veral geniet dat ´n mens van ons huis af net 10 minute loop dan is ons in die stadjie en loop heerlik in die klein straatjies en steegies, ook in die aand is dit ´n heerlike rustige atmosfeer met eet en kuierplekke oorals. Binne loopafstand van ons huis af is daar minstens 20 restaurante en ons sal ons bes probeer om hulle gereeld te ondersteun.