Mittwoch, 27. August 2008

Terug deur Etosha

Die pad terug van die fees na Otjiwarongo het aan ´n paar mooi plekke verby gegaan en die vinnige draai deur die Etosha was die moeite werd.

Die eerste deel van die pad was net vir spesiale voertuie en haastig kan mens ook nie wees nie. Maar wie wil nou vinnig ry in so ´n mooi omgewing.
Die Ruacana Waterval is droog want al die water gaan deur die kragsentrale. Orals is die groot miershope te sien. Net noord van die Etosha is hierdie waterspuitfonteine in die dor landskap ´n snaakse verskynsel. Diere kan die effens brak water drink maar dit smaak nie lekker nie.
In die wildtuin het ons heelwat verskillende diere gesien al het ons net deurgery van een hek na die ander. Die Zebras was die mooiste en baie naby.

Montag, 25. August 2008

Dorslandgedenkfees langs die Kunene

Die Dorslandgedenkfees is gehou om die trek vanaf Angola na Suidwes-Afrika te gedenk wat 80 jaar gelede plaasgevind het. Vir ons belangrik omdat van Etrese se voorouers die trek meegemaak het. Die trekkers het deur die Kunene gekom by Swartbooisdrift en die fees is dus in daardie omgewing gehou.

Op hierdie plek het die waens deur die rivier gekom.
Die fees is deur ongeveer 300 mense bygewoon en almal het saamgedoen soos een groot familie.

Daar was ook baie belangstelling vir Etrese se boek wat baie inligting oor die trek bevat asook dele van haar ouma se dagboek tydens die trek

Ses persone wat die oorspronklike trek nog beleef het was ook daar om dit te gedenk.
Behalwe vir die program wat aangebied is was die saamkuier onder die groot bome langs die rivier en saans om die kampvuur ´n groot lekkerte. Daar is die familie se geskiedenis bespreek, grappe en staaltjies vertel en so baie gelag dat ons die bure wakker gehou het.



Ons wou eintlik ook gaan swem by die waterval maar na onlangse baie reens is die maalgate onder die waterval toegespoel.

Die pad was ook nie maklik nie en hier is die bult eers met die vierde poging gewen.

Daar was ook tyd om te ontspan en Simon het probeer om die groot een uit te trek.

Donnerstag, 21. August 2008

In die Namib woestyn

Die duine by Walvisbaai is ongelooflik mooi, die sagte fyn sand in verskillende kleure en die mooiste vorms wat die duine aanneem.
Hier was ook water op ´n stadium en hierdie patrone het gevorm toe dit opgedroog het.
Raai wie loop daar ver in die woestyn, kliek op die foto om dit te vergroot.

Uiteindelik bo
en amper bo.

Mittwoch, 20. August 2008

Swakopmund

Op pad na die Dorslandfees het ons in Swakopmund gaan draai en ons is deur Steve en Joan bederf in hulle pragtige huis,
en sekerlik die mooiste tuin in die omgewing
Die kristalmuseum is baie indrukwekkend en hierdie is die grootste kristal ter wêreld wat ten toon gestel word. Dit staan 3,5m hoog en weeg meer as 14 ton.
Die dorpie met sy duitse karakter is pragtig en baie mooi skoon en netjies. ´n Regte oase in Afrika.


Montag, 18. August 2008

In die Kaap

Ons heerlike vakansie het by Maryna en Elliott in Kaapstad begin. Die weer was pragtig en ons het die kans gebruik om die pragtige omgewing van die Kaap te geniet. Die uitsig was mooi en die son was lekker warm.
Ideale geleentheid vir 'n piekniek met uitsig oor Houtbaai.
Waar het julle nou weer die walvisse gesien?
Die rotse by Llandudno is indrukwekkend en lekker om op rond te klim en die uitsig oor die blou waters te geniet.
Met mooi berge om die prentjie af te rond.
Lekker by die see!